Back

ⓘ Argaïese mense




Argaïese mense
                                     

ⓘ Argaïese mense

’n Paar soorte Homo word geklassifiseer in die bree kategorie argaïese mense – hulle kom uit die tydperk voor en tydens die opkoms van die vroee moderne mense omstreeks 300 000 jaar gelede. Omo-Kibish I uit Suid-Ethiopie en die oorblyfsels uit Jebel Irhoud in Marokko en Florisbad in Suid-Afrika is van die oudste oorblyfsels van Homo sapiens. Die term sluit gewoonlik die volgende in: Homo neanderthalensis, Denisova-hominiene, Homo rhodesiensis, Homo heidelbergensis, Homo naledi, Homo ergaster en Homo antecessor.

Daar is gewoonlik nie algehele konsensus oor die terminologie nie; varieteite van "argaïese mense" word soms ingesluit onder die binomiale naam Homo sapiens en soms onder Homo erectus.

Argaïese mense se brein was gemiddeld 1 200 tot 1 400 cm 3 groot, wat oorvleuel met dié van moderne mense. Argaïese mense word van anatomies moderne mense onderskei deurdat hulle ’n dik skedel, prominente wenkbrouboe en geen prominente ken gehad het nie.

Anatomies moderne mense het sowat 300 000 jaar gelede in Afrika en 70 000 jaar gelede verskyn. Hulle het die argaïese varieteite geleidelik vervang. Niemoderne varieteite van Homo het beslis tot ná 30 000 gelede nog bestaan en dalk tot so onlangs as 12 000 jaar gelede. Watter van hulle, indien enige, onder "argaïese mense" ingesluit word, is ’n kwessie van definisie en verskil van skrywer tot skrywer. Onlangse genetiese studies het aangetoon moderne mense het "met minstens twee groepe" antieke mense gekruisteel: die Neanderdallers en Denisova-hominiene. Ander studies trek dié feit in twyfel en dui daarop die gemengde gene het ’n oorsprong in voorouers van beide groepe van 500 000 - 800 000 jaar gelede.

Nog ’n groep, die Edelhert-grotmense van China, het dalk 11 500 jaar gelede nog bestaan. Chris Stringer van die Natuurhistoriese Museum in Londen het voorgestel dié mense het ontstaan uit ’n kruising tussen die Denisova-hominiene en moderne mense. Ander wetenskaplikes is egter skepties daaroor en meen die unieke eienskappe is te verwagte binne die variasies van die moderne menslike bevolkings.

                                     

1. Terminologie en definisie

Die kategorie "argaïese mense" het geen enkele definisie waaroor almal saamstem nie. Volgens een definisie is Homo sapiens ’n enkele spesie met verskeie subspesies wat die argaïese en moderne mens insluit. Volgens dié definisie word na die moderne mens verwys as Homo sapiens en argaïese mense word Homo sapiens genoem. Daarvolgens is die Neanderdallers byvoorbeeld Homo sapiens neanderthalensis en is Homo heidelbergensis dus Homo sapiens heidelbergensis. Ander taksonome verkies om die argaïese en moderne mens as verskillende spesies te beskou. Hulle praat van Homo neanderthalensis en Homo heidelbergensis.

Die evolusionêre skeidingslyne tussen moderne mense en argaïese mense en tussen argaïese mense en Homo erectus is onduidelik. Die oudste bekende fossiele van anatomies moderne mense soos die Omo-oorblyfsels van 195 000 jaar gelede, Homo sapiens idaltu van 160 000 jaar gelede en die Qafzeh-oorblyfsels van 90 000 jaar gelede kan herken word as moderne mense. Hierdie vroee moderne mense het egter sekere argaïese eienskappe gehad, soos matige, maar nie prominente, wenkbrouboe.

                                     

2. Vergroting van die brein

Die verskyning van argaïese mense word soms gebruik as ’n voorbeeld van "punktuasie-ewewig", waar ’n spesie in ’n relatief kort tydperk aansienlike biologiese evolusie ondergaan, en daarna vir lang tydperke min veranderings tot die volgende "punktuasie" onderbeking of afwisseling. Die argaïese mense se brein het aansienlik vergroot, van 900 cm 3 in erectus tot 1 300 cm 3. Sedert die hoogtepunt in menslike breingroottes tydens die argaïese tydperk het dit begin afneem.

                                     

3. Oorsprong van taal

Die Britse antropoloog Robin Dunbar meen taal is die eerste keer deur argaïese mense gebruik. Ná sy ontleding van die verhouding tussen breingrootte en die grootte van hominiengroepe het hy tot die gevolgtrekking gekom dat argaïese mense vanwee hulle groter brein in groepe van tot 120 individue gewoon het. Hy reken dit is onmoontlik dat hominiene in sulke groot groepe kon woon sonder om taal te gebruik, want anders sou daar geen groepkohesie saamklewing gewees het nie en sou die groep uiteenspat. In vergelyking daarmee woon sjimpansees in kleiner groepe van tot 50 individue.

                                     

4. Skakels

  • Human Timeline Interactive – Smithsonian, National Museum of Natural History Augustus 2016.
  • Early and Late "Archaic" Homo Sapiens and "Anatomically Modern" Homo Sapiens
  • Homo sapiens, Museum of Natural History
  • Origins of Modern Humans: Multiregional or Out of Africa?
  • Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.